die deuntjie draal soos vaag onthoude grepies uit ‘n baie ou verhaal
Ek het nog nooit, selfs nie eers as kind nie, die skeppingsverhaal van die Bybel letterlik verstaan nie. Dit was nie my eie intellek nie. Nee, my pa het die insig gehad om dit op ’n simboliese manier vir my uiteen te sit. Weliswaar ’n verduideliking wat moontlik mank gaan aan goeie teologie en wetenskap. Maar nietemin ’n bevrydende verduideliking. Ek is hom tot in ewigheid dankbaar daarvoor. Sy verduideliking het vir my van die skeppingsverhaal ’n klassieke lied gemaak.
Kyk, ek glo die wetenskaplike verduideliking van die totstandkoming van die heelal. Maar ek het ook ’n behoefte om dit op ’n meer spirituele vlak te verstaan. Ek is immers gegiet in die godsdienstige tradisie. En boonop in die Christelike vertakking daarvan. Dus, selfs al het my omswerwinge my al by plekke uitgebring waar nie baie gelowiges uitkom nie, is ek nog steeds kind van God. My logika wil my nie op hierdie stadium van my lewe toelaat om “die hand van God” te ontken nie. En meer spesifiek, ek sien nog altyd God se hand in die skepping. Ek gaan nie so arrogant wees om evolusie en wetenskaplike bevindings te plooi sodat dit by my Godsidee pas nie. En ek het geen sin in die sg. Intelligent Design-debat nie. Maar êrens, vasgelê in die patroon van my lyf, is daar die behoefte om erkenning te gee aan God wat die hemel en die aarde geskep het.
Daarom het ek die Big Song-teorie ontwikkel. Dis nie ’n teorie wat ek as evangelie gaan verkondig nie. Dis ook nie ’n wetenskaplike teorie nie. Dis sommer my eie teorie vir persoonlike besinning. Ek deel dit slegs met jou in die hoop dat jy saam met my gaan lekker kry oor ’n mooi gedagte: Die skepping was ’n Big Song.
Maar laat ek vir jou beduie wat ek bedoel. Die begin van die Bybel is eintlik ‘n lied. Om die waarheid te sê: Een derde van die Bybel is gedigte en liedere. Die Bybel kon net sowel bekend gestaan het as die Heilige Liedboek.
Die mense van die Bybel het byna niks gedoen sonder dat musiek deel daarvan was nie. Hulle het mekaar verwelkom en afskeid geneem van mekaar met musiek. Hulle het getrou en hulle is begrawe onder die geklank van musiek. Hulle het selfs oorlog gevoer met musiek. Hulle het romantiese liedjies en werksliedjies en selfs drinkliedjies gesing. Want musiek was vir hulle die sin van die lewe. En dit is wat Genesis 1 moes doen. Dit moes ‘n lied wees wat sin aan die Israeliete se geloof en lewe gee.
Maar ek het nodig om vir jou te vertel hoedat ek Genesis 1 verstaan. Genesis 1 is nie ‘n wetenskaplike verslag oor hoe die hemel en die aarde geskep is nie. Dit moet eerder beskou word as ‘n preek of ‘n geloofsbelydenis. Eintlik meer as dit. Genesis 1 is ‘n geloofsbelydenis in die vorm van ‘n gedig of selfs ‘n lied. The Dictionary of Biblical Imagery stel dit so: “The repeated terms, patterns and refrains of the opening chapter of Genesis suggest at least a poetic and probably a musical dimension to the whole story of the creation.”
Genesis 1 wil dus nie verduidelik hoedat iets tot stand gekom het nie. Dit wil ‘n lied sing van God wat chaos in orde omskep.
Hoekom sê ek so? Uit die inligting tot ons beskikking kan mens bepaal dat Genesis 1 min of meer in die tyd tussen 600vC en 500vC ontstaan het. Dit is die tyd toe die Israeliete in ballingskap was in Babilonië.
En as mens dit nou weet, dan kan mens aanvaar dat die boodskap van Genesis verstaan kan word teen die agtergrond van twee dinge:
• Die Ballingskap
• Die antieke mens se siening van die wêreld
Die Babiloniese ballingskap het Israel se geloof in baie opsigte beproef. Elke jaar het die Babiloniërs vir 2 weke feesgevier om die skeppergod, Marduk te vereer. Volgens hulle geloof, het Marduk, nadat hy die hemel en die aarde gemaak het, Babel as woonplek gekies en die koning as sy verteenwoordiger aangestel. Dié geloof het die Babiloniërs die “reg” gegee om oorloë te voer en lande oor te neem. So het hulle baie volke oorwin en van hulle onderdane gemaak van Babilonië. Israel was een van die volke wat deur die Babiloniërs oorwin is en as ballinge (gevangenes) na Babilonië geneem was. Vir die Jode was dit verskriklik moeilik. Want ewe skielik moes hulle in ‘n land bly waar ‘n ander god aanbid word. En boonop was daar nog baie ander gode wat aanbid moes word. Vir die Jode, weet ons, was daar net een God.
Hulle siening van die wêreld het dit ook nie vir hulle makliker gemaak nie. Die wêreld was vol bose magte wat veral in die duisternis en die watermassas geskuil het. Dit het hulle natuurlik baie bang gemaak vir die natuur. En Babilonië was pure hel vir die arme Jode. Want hier was water en nogmaals water en vloede en oorstromings en natuurrampe. Alles goed wat ‘n mens van daardie tyd die ritteltits kon gee.
Die Israeliete het dus ‘n redelike slegte tydjie ervaar. Alles is chaos. Alles is deurmekaar. So erg dat hulle nie eers meer musiek wou maak soos altyd nie. In Psalm 137:1-4 word hulle musieklose bestaan beskryf: “By die riviere van Babel daar het ons gesit en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang… Hoe kan ons die lied van die Here in ‘n vreemde land sing.”
Maar mens kan nie vir altyd in sak en as sit nie. Erens moet jy weer opstaan. En hoe doen die Israeliete dit? Hulle maak musiek. Hulle sing ‘n lied. ‘n Lied van orde wat handel oor ‘n God van orde. Hy is in beheer van die wêreld, sing hulle. En alles wat die mens sien: son, maan, sterre, diere, plante voëls, visse, mense, selfs die beangste donkerte van diep waters – is alles tekens van hoe God vir mense omgee en nooit die werk van sy hande laat vaar nie. Hierdie God “spreek” net en chaos word harmonie. Deur woorde, deur klank, skep hy orde. Die skepping was dus ‘n klankgebeurtenis. En die klank het sigbaar geword. Kosmiese vibrasies het uitgeloop in beelde van die heelal.
Daarom is die komponis, Leonard Bernstein se definisie van musiek so insiggewend wanneer mens oor Genesis 1 praat: “Musiek is Kosmos te midde van chaos.” Hierdie selfde Leonard Bernstein het ook graag gesê: “Die beste vertaling vir die Hebreeuse teks van Genesis 1 is nie “En God het gesê” nie, maar eerder “En God het gesing.” ‘n Mens kan dus die eerste hoofstuk van die Bybel so lees: “En God het gesing: Laat daar lig wees en daar was lig.”
Die skepping weerklink inderdaad in ‘n mens se ore. En wetenskaplikes probeer deesdae na hierdie klanke luister. Om die waarheid te sê: Volgens sommige wetenskaplikes het klankgolwe die struktuur van die kosmos gestruktureer. Maar laat ek vir julle aanhaal presies wat staan daar, net vir ingeval daar van julle is wat dink ek suig dit uit my duim: (R. Cowen, “Sound Waves May Drive Cosmic Structure”, Science News 11 Jan. 1997: 21.) “Sound waves generated in the early universe may have helped orchestrate the striking pattern of galaxy clusters and huge voids seen in the sky today.”
Met ander woorde, in Bybelse woorde: “En God het gesing: Laat daar lig wees.”
Die wiskundige en sterrekundige, Johannes Kepler (1571-1630) het in 1619 ‘n boek geskryf met die titel: The Harmonies of the World. In hierdie boek stel hy die heelal voor as ‘n simfonie van klank.Twee navorsers van die Yale Universiteit, Willie Ruff en John Rodgers, het toe die lied van die planete verwerk en dit opgeneem as The Harmony of the World.
Dit laat my anders na God kyk. Die wêreld is uit klank geskep en deur middel van klank kan gelowige mense God daarvoor loof. Geen wonder dat die vier laaste psalms in die Psalmboek musikante en komponiste geïnspireer het om van hulle grootste werke te skep nie. Lees bietjie hoe klink Psalm 150: “Prys God met die ramshoring, prys Hom met harp en lier. Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinsrumente en fluite. Prys Hom met simbale, Prys Hom met galmende simbale! Laat alles wat asem haal, die Here prys!”
Is dit nie mooi nie? Die musiek van God. Spits jou ore en luister wat jy hoor. “Luister en jou siel sal lewe” sê die ou vertaling van Jesaja 55:3.
Dalk is dit waarom die ou Israeliete psalms gesing het vir siek mense. En dis nie onwaarskynlik nie. Want sien, musiek bestaan basies uit drie elemente: ritme, melodie en harmonie (Die musikante moet my maar daarop wys as ek verkeerd is.) Ritme en melodie word veral aangewend vir ’n veld wat bekend is as musiekgenesing. Harmonie word weer gebruik vir klankgenesing. Vibrasies van melodieë word dus gebruik om die liggaam, verstand en emosies te genees.
‘n Vreemde gedagte, maar een wat skielik sin gemaak het toe ek afkom op die oorsprong van die woord Cantare. Dit is die Latynse woord vir sing. Die oorspronklike betekenis van cantare was “om te toor” of “om gesond te maak.” En die woord Carmen wat hiervan afgelei is, is die Latynse woord vir gedig. Die oorspronklike betekenis van Carmen was “towerformule.” ’n Cantor was dus iemand wat gesond gemaak het met klanke en musiek.
Met dit in gedagte het Genesis 1 vir my weer nuwe betekenis gekry. Die lied wat handel oor God se almag moes die krag gehad het om ‘n klomp troostelose ballinge gesond te maak! Maar ongelukkig het die kerk Genesis 1 gaan staan en verwring as ‘n wetenskaplike verslag oor die ontstaan van die wêreld waarin ons bly. In reaksie hierop het Christene opgehou om respek vir die Bybel se verskeidenheid van gedigte, liedere en gelykenisse te hê. Die Bybel se “waarheid” is tot historiese letterlike waarhede vereng. ’n Waarheidsbeskouing waarin daar nie plek is vir God se musiek nie!
Dit was nooit, volgens my, die bedoeling van Genesis 1 nie. Genesis 1 wou musiek maak. ‘n Lied vir alle tye sing. ’n Klassieke lied wat spreek tot mense van alle tye, omdat dit die taal van die hart praat.
Dit laat my dink aan daardie onvergeetlike solovertoning van die bekende balletdanser, Mikhail Baryshnikov. Hy het dit genoem “An Evening of Music and Dance” met onder andere ‘n item bekend as “HeartBeat:mb,” In hierdie item het hy ‘n mikrofoon aan sy kaal bolyf vasgeplak en almal in die gehoor kon luister hoe sy hart klop terwyl hy deur sy passies gegaan het. Die lied van sy hart het almal in vervoering gehad.
Edgar Lee Masters het in 1914-1916 ‘n boek geskryf: Spoon River Anthology. Hy skryf o.a. “The earth gets some vibration going down in your heart, and that is you.”
Ek en jy is musiek. Kosmos te midde van chaos. Daar is nie ‘n geen in jou liggaam wat nie ‘n lied sing nie. Alles in jou, jou hart, jou are, jou bloed, alles is triljoene vibrerende selle. Die skepping is musiek. Jy is musiek.
Dit het digters en liedjieskrywers lankal al beter besef as dominees. Kyk net hoe mooi sing Neil Diamond dit in sy liedjie Play me: “You are the sun, I am the moon. You are the words, I am the tune, Play me.”
Christene se taak is dus nie om die Bybel op grond van wetenskaplike bevindings te verdedig nie. Nee, Christene moet musiek maak vir ander mense. Want, het Johann Sebastian Bach gesê: “Musiek is die tregter waardeur God die evangelie direk in ons harte skink.”
As jy dit kan raaksien, dan kan jy begin om jou lewe in terme van musiek te beskou. Jy hoef dan nie te werk aan verhoudings nie. Jy speel verhoudings. Want elkeen van ons is ‘n musiekinstrument. Ons werk tog nie aan musiekinstrumente nie. Ons bespeel dit.
En wanneer jy dit regkry, dan beplan jy nie meer jou lewe van buite af nie. Jy komponeer die lewe van die binnekant af buite toe. Dan is die Bybel nie meer ‘n stel wette en beginsels of ‘n reëlboek vir die lewe nie. Nee, dan is dit ‘n stel note, ‘n akkoord wat op jou siel gedruk word om elke dag die mooiste melodie te speel. Jy moet net jou oor oefen om te luister.
Iets hiervan kom ook in die Nuwe Testament na vore. Dit is die woorde van Johannes 1:1 – “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God.”
In Grieks het daar gestaan: In die begin was die Logos. Maar wag, haal uit julle Griekse woordeboeke. Logos word letterlik vertaal as “praat.” Dit is afgelei van Legein – om iets hardop te sê. In my woordeboek staan daar – Logos: a title for Jesus in the Gospel of John as a reference to the content of God’s revelation and as a verbal echo of the use of the verbs meaning “to speak” in Genesis 1.
Logos beteken dus klank en woord. Dus: In die begin was die…Klank! Of soos Leonard Sweet, ‘n Amerikaanse teoloog dit so mooi stel – Jesus the Sound of God, The Sound made flesh. In die begin was die Lied en die Lied was by God en die Lied was God. Klink vir my soos ‘n Big Song teorie.
Erkenning: Leonard Sweet
Julian Müller
As jy twee identiese glase langs mekaar sit, met ewe veel water in, gaan beide van hulle sing as jy ene laat vibreer.
Ek dink nou nie ons is identies nie, maar my hart vibreer saam met hierdie post van jou.
‘n Pragtige en insiggewende inskrywing. Dit waai vir my soos ‘n vars briesie deur die ge-ykte evolusie vs God debat. Dankie!
Hey Rev!
‘n Lied inderdaad. Ek laaik die manier wat jy dink. Jy help my ook dink. Al probleem is dat ek nou al weer te veel dink. Ek was vir ‘n lang tyd seker dat God net ‘n fairytale is. En nou wonder ek of hy nie maar net ‘n pragtige lied is wat deur die eeue heen gesing is nie; ‘n volksliedjie, oorgedra van geslag tot geslag… oorsprong onbekend.
K ‘-)
Lekker inskrywing Rev. Ek voel soos Freddy, ons is op dieselfde frekwensie as jy.
la. lalalalalaaaa. lalala.
Een van die beste inskrywings wat ek in ‘n lang tyd oor God en godsdiens gelees het. Dankie hiervoor!
Ek het dit actually verstaan, en dit maak sin. Dankie.
Rev, oulike preek!
Een van dáái preke waar elke woord, sin en paragraaf baie goed klink, maar wanneer jy aan die einde uitstap en terugdink oor die boodskap as geheel, wonder jy wat het die domenis nou éintlik probeer sê.
Nietemin, as mede-wenner van die ongelooflike kosmiese lotery, teen alle waarskynlikheid in, kan ek met jou saamstem dat musiek vir ons pragtig klink, net soos ‘n vars lente-oggend lekker ruik, die Sederberge mooi lyk, en roomys-met-sjokoladesous ambrosiaal proe.
Dit is seker nie verbasend nie, gegewe dat dit die omgewing is waarin ons geëvolueer het. Katte en walvisse sal seker van ons verskil oor hoe ‘n goeie liedjie behoort te klink, visse dink dat vars lug oor die algemeen redelik overrated is, en molle sal veel eerder deur die Sederberge tonnel as om hulle van ver te aanskou!
Ons gode, soos ons hedonistiese plesiertjies, is maar refleksies van onsself en ons sintuie.
So kom ons vereer die wáre Skeppers… Beethoven, Bono, Bernoulli, Baines, Borges, Blake, Bergman en Baryshnikov.
Dáár’s nou vir jou ‘n preek…
Hierdie was nou vir my ook baie lekker om te lees. Veral: “My logika wil my nie op hierdie stadium van my lewe toelaat om “die hand van God” te ontken nie. En meer spesifiek, ek sien nog altyd God se hand in die skepping. Ek gaan nie so arrogant wees om evolusie en wetenskaplike bevindings te plooi sodat dit by my Godsidee pas nie.”
Ek gaan ook nie my Godsidee plooi om by evolusie en wetenskap te pas nie. Die twee kan mos maar naas mekaar staan sonder dat die een in die ander op gaan.
Waardering.
hierdie
is mooi. ek submit dit sommer nou vir [TYDskryf].
Baie dankie vir elkeen van julle se reaksie op my griffeltjie. Dis lekker om te weet dis vir ander ook mooi.
[...] notice that the truth found in this song is not dependent upon its factual [...]
Pingback by It’s a Beautiful Day | October 25, 2007 |