Swem Sannie, swem vrou, swem
Vroeër jare is ‘n vrou wat met ‘n bikini swem, daarvan beskuldig dat sy losse sedes bevorder. Bikinidraers moes veg vir ‘n plekkie om te tan.
Uiteindelik het hulle gewen, tot so ‘n mate dat jy in die westerse kultuur skeef aangekyk word as jy met iets anders as ‘n bikini swem. En net hoe skeef, het die “verligte” Nederlanders hierdie week vir die wêreld gewys.
‘n Moslemvrou wat met ‘n boerkini (lyk amper soos ‘n duikpak) geswem het, is gevra om die swembad te verlaat, aangesien die ander swemmers beswaar maak teen haar drag! (http://www.news24.com/Beeld/Wereld/0,,3-71_2277999,00.html)
Dit lyk vir my die mens sal maar altyd geneig bly daartoe om ander te wil dwing om soos jy te dink en voel.
As jy godsdienstig is, wil jy hê ander moet ook godsdienstig wees. As jy ongelowig is, moet ander ook so wees. As jy halfkaal wil loop, moet ander dit ook doen. As jy wil tan, moet ander dit ook doen. Die lys kan eindeloos raak.
Aanvaarding en verdraagsaamheid is vir baie mense lagwekkende begrippe. Maar ek en my gesin, ons sal ons daarvoor bly beywer.
123 blok my boek
Ek is deur Karin getag om:
- Tel die boek naaste aan jou op.
- Blaai na bladsy 123.
- Tel die eerste vyf sinne af.
- Post die volgende drie sinne.
- Tag vyf ander bloggers
My boek is:
The 33 Strategies of War - Robert Greene:
Create this reputation and make it credible with a few impressive - impressively violent - acts. Uncertainty is sometimes better than overt threat: if your opponents are never sure what messing with you will cost, they will not want to find out. Play on people’s natural fears and anxieties to make them think twice.
Ek tag vir… (dit lyk of almal al geblerrie tag is) uhm… oukei… oukei, oukei, oukei… tag net iemand magtag!
http://stevehofmeyr.co.za/blog/ (ek toets DaMario se teorie vir ‘n besige blog)
http://dmario.wordpress.com/ (’n bietjie besigheid vir DaMario uit dankbaarheid)
http://attie.wordpress.com/ (nog ‘n bietjie besigheid vir ‘n besige kollega)
http://7skewekleure.wordpress.com/ (’n knik van erkenning vir my gunstelingblog)
http://saligerus.wordpress.com/ (’n moontlike topic vir gesprek volgende week)
maar die slopers is betrokke
Hierdie vandag raakgelees geskryf deur Wedergestorwe Christen:
Wat is die mens? Nie baie nie, en tog….
As al die mense vandag besluit die wêreldleiers het geen gesag of mag nie, het hulle?
As mense vandag besluit belangrike mense is nie belangrik nie, het hulle enige status?
As alle mense vandag besluit geld, metale en kunswerke is nikswerd, het dit nog enige waarde?
As mense vandag kollektief van gode vergeet en nie meer aan hulle dink nie, gaan hulle “werklik” voel?
As mense vandag die aarde opblaas of die ruimte in foeter, wat word van iets soos die wederkoms?
As mense vandag ophou voortplant, wat kan evolusie doen?
As mense vandag besluit om hulle deel te doen, mekaar te help en alles te deel, is ‘n ekonomie of politiek of nasionaliteit of kulturele identiteit nodig?
ietsie vir vygie
Ek het hierdie preek gemaak vir die begrafnis van ‘n gestremde kind. Sy ouers het hom vir 16 jaar versorg nadat hy ‘n virus opgedoen het wat hom vir die res van sy lewe op 2-jarige ouderdom laat vashaak het. Vygie, ek kan nie regtig jou en ander ouers se pyn verstaan nie, maar hierdie is my lomp poging gewees om sin te maak daarvan. Vergewe my as dit onvanpas is.
Die ideale lewe is ‘n heel lewe. D.w.s. ‘n normale lewe. So redeneer ons. Dit is nie nodig om hierdie stelling wetenskaplik te staaf nie. Jy kan maar net na mense se benadering tot die lewe kyk om dit te besef. Elke mens streef na heelheid. Read more »
‘n Poging om niks oor Steve te sê nie.
Ek het Vark se versoek met erns bejeën en besluit om iets oor die eetgewoontes van vlieë te skryf. Dis egter ‘n eenvoudige onderwerp. Want vlieë suig, spoeg en suig dan weer. Eenvoudig. Maar my navorsing het my op ‘n paar interessante feite oor vlieë uitgebring. Vir julle vermaak dus, ‘n produksie deur right said reverend oor vlieë omdat ek nie my neus in ander mense se sake steek nie, maak nie saak hoe bekend hulle is nie.
Huisvlieë bestaan al ongeveer 65miljoen jaar. Die vermoede is dat hulle oorsprong êrens in die Midde Ooste is. Daar is egter ook navorsers wat meen dat Afrika (net soos die mens) eintlik die plek van oorsprong is omdat die meeste spesies en subspesies in Afrika te vind is.
Die mens is waarskynlik verantwoordelik vir hulle migrasie. Bote, perdekarre, wat ookal, as die mens se gat gejeuk het, het die vlieg ‘n ride gevat. The moral of the story: Waar mense is, sal daar vlieë ook wees.
‘n Huisvlieg kan slegs vloeibare kos eet. Hulle spoeg saliva op soliede kos om dit ‘n bietjie te verteer en suig dit dan weer in. Hulle vomeer ook gedeeltelik verteerde kos en eet dit dan weer.
Sommige navorsers meen dat een vlieg soveel as 33miljoen interne bakterieë huisves en nog sowat ‘n halfbiljoen wat op sy lyfie rondswerm. Gelukkig is hierdie bakterieë nie baie lief vir selfs die kleinste temperatuurskommelings nie. Dus is ‘n vlieg se reis van die dak na die tafel, hoe kort ookal, maar ‘n moeilike een. As dit nie hiervoor was nie, sou die mens dodelik siek kon word a.g.v. vlieë. Of eerder van dit wat hulle saam met hulle karwei: Tifus, cholera, salmonella, polio en lintwurms tel hieronder.
Ten spyte van ons beste pogings, is dit bykans onmoontlik om vlieë vir ‘n langtermyn hok te slaan. Daar was egter ‘n periode kort na die Tweede Wêreldoorlog toe dit amper gebeur het met die gebruik van DDT en ander dodelike insekdoders. Die grillerige kreatuurtjies het ons egter van ver af sien aankom en ‘n immuniteit teen ons truuks ontwikkel, sodat ons op die oomblik niemand anders as onsself vergiftig nie.
Ten spyte van baie pogings kon niemand dit nog regkry om ‘n vlieg iets te leer nie. Visse leer, kakkerlakke leer, slakke leer en selfs wurms leer, maar nooit ‘n vlieg nie.
‘n Vlieg spring op en agtertoe as dit wegtrek. As jy dus van agter af naderkom, behoort jy ‘n beter kans te hê om die outjie moerland toe te stuur met jou handpalm.
Vlieë speel ook ‘n belangrike rol in mitologie en religie. Een voorbeeld is die Najavo-religie waarin Groot Vlieg ‘n belangrike spirituele wese is.
Emily Dickinson het ‘n gedig geskryf met die titel: I heard a fly buzz when I died.
Wie onthou die fliek The Fly waarin ‘n wetenskaplike per ongeluk dele van sy lyf vervang het met die van ‘n vlieg?
In 2001 het Garnet Hertz ‘n volledige web server in ‘n dooie vlieg oorgeplant. Maar die whackhead het dit met paddas ook gedoen. Of is dit nou web head?
Mohammed die profeet van Islam het na bewering ook die volgende oor ‘n vlieg te sê gehad: “If a house fly falls in the drink of anyone of you, he should dip it (in the drink), for one of its wings has a disease and the other has the cure for the disease.”
ons is nog jonk en die wêreld is oud
‘n Preek oor vernuwing. Die skrifgedeelte is Jesaja 43:14-21
Is dit opwindende tye waarin ons leef of nie? Baie van ons dink nie dat ons in opwindende tye leef nie. Baie van ons voel onseker en verward oor die tye waarin ons leef. Die hoeveelheid nuwe dinge wat ons beleef is oorweldigend en dit pluk die matjie van alles waaraan ons gewoond is, reg onder ons voete uit. Dit verlam baie van ons so erg dat ons ook die nuwe geslag aan bande lê.
Daarom wil ek vanmore ʼn uitdagende stelling maak: As ons as geloofsgemeenskap nie vanmore met passie en oortuiging kan saamstem dat die tye waarin ons leef, opwindend is nie, dan gaan ons die geleentheid laat verlore gaan om ons Goddelike opdrag in hierdie nuwe wêreld na te kom. Dan gaan die kerk ʼn stem in die woestyn word. Dan gaan ons en veral ons kinders vasgevang wees in ʼn kerk wat die siel doodmaak.‘n Kerk wat die siel verlam.
In standerd nege/graad elf het ek my eerste ernstige verhouding met ʼn meisie begin. Sy was in matriek en toegerus met al die ervaring om ʼn standerd 9 seun op te lei in die wetenskap van dating. Een so opleidingsgeleentheid was toe ons altwee ʼn naweek in die koshuis moes bly. Ek het die heel week gedroom en planne gemaak oor hierdie onverwagse bonus. Ek besluit toe om haar na Middelburg se enigste fliekteater toe te vat. Daai aand het Tom Cruise se selfversekerdheid in my posgevat en toe ons na die fliek om ʼn donker hoekie ( so beplan ) staan om te groet, toe vra ek: “Mag ek jou soen?” In die donker kon ek voel dat sy na my kyk en glimlag. Maar sy sê nie ʼn woord nie. Ek het so effens ongemaklik begin voel maar in egte Tom Cruise-styl het ek my cool gehou en weer gevra: “So, mag ek jou soen of wat?” En die meisie sê nie ʼn woord nie. Ek begin ongeduldig raak, want dit lyk nie of sy die erns van die situasie besef nie. “Is jy doof?” vra ek toe in ʼn stemtoon wat sê: Jy’t een kans ou girl, soen my of los my. Weet julle wat antwoord sy my? “Is jy lam?” Toe soen ek! Read more »
Skenk ons ‘n helder Bach kersfees
Ek wil graag hierdie artikel met julle deel. Prof. Jurie le Roux, Ou Testamentikus en een van my gunstelingteoloë het dit geskryf.
Kersfees 2007: Bach, ‘bands’ en Kersfees
Jurie le Roux
Sonder die kerk was daar geen kuns nie. Of in elk geval nie soos ons dit vandag ken nie. Dit was die kerk wat skilders en komponiste in diens geneem, hulle betaal en talle opdragte gegee het. Hulle moes die kerk se boodskap vir gewone mense ‘hoorbaar’ en ‘sigbaar’ maak. Dié kuns het die westerse mens so ingrypend gevorm en geslyp dat die diepte daarvan ‘n mens nou nog oorrompel. En miskien lê dié oorrompelende in die poging om iets oor God in die mooiste kleure en aangrypendste musiek te sê; om iets van die onsigbare, die misterie op ‘n doek vas te lê en tog ook nie alles te sê nie; om iets oor die onuitspreeklike te sing sonder om dit volledig vas te vat. Read more »
Verslaaf aan godsdiens?
Ek het die onderstaande op Wikipedia raakgelees en plaas dit net so sonder enige bespreking. Sal graag wil lees wat dink julle daarvan.
“Many people, both psychology professionals and laypersons, now feel that there should be accommodation made to include psychological dependency on such things as gambling, food, sex, pornography, computers, work, exercise, cutting, shopping, and religion[3] so these behaviours count as diseases as well and don’t cause guilt, shame, fear, hopelessness, failure, rejection,anxiety, or humiliation symptoms associated with, among other medical conditions, depression[4],epilepsy, [5] and hyperreligiosity[6] In depression related to religious addiction “The religious addict seeks to avoid pain and overcome shame by becoming involved in a belief system which offers security through its rigidity and its absolute values.”[7] While religion and spirituality may play a key role in psychotherapeutic support and recovery, it can also be a source of pain, guilt and exclusion, and religious themes may also play a negative role in psychopathology.[8]“
jy wat jou op die wysheid roem
Ek sit die naweek op my stoep en dink. Dis Saterdagmiddag en my preek vir Sondag is VDM klaar (daar is mense wat dink VDM is een of ander Latynse uitdrukking, maar dit beteken eintlik Voor Donderdag Middag). Ek kan ontspan. Wat ek toe nou doen. Ek is in ‘n kontemplatiewe bui terwyl my skaappotjie hipnoties langs my spin. Ek dink oor geloof. Ek dink veral oor my eie geloof wat my ongedurig laat reis tussen idees en konstrukte. Ek neem ‘n slukkie Tassies getap uit ‘n boks en suig aan my pyp… en ek dink aan ‘n aanhaling van Ferdinand Deist wat ek eenkeer gelees het: “Die oomblik wanneer kerkmense meen hulle hoef nie meer antwoorde te soek of krities na bestaande antwoorde te kyk nie - omdat hulle reeds weet - kreun ‘n afgod orent.” Read more »
die twee hanne van my…
Vandag se preek. Die teks is Markus 1:40-45
Die liedjie, Hanne, van David Kramer, het weer gewild geraak toe Theuns Jordaan dit uitgehaal en afgestof het. In die liedjie word ‘n karakter beskryf wat aan die einde van ‘n lang lewe na sy hande kyk en op die spore in sy handpalms terugloop op sy lewenspaadjie. “Kyk die hanne die,” sing Theuns, “die twee hanne van my. Waar het ek die twee hanne gekry? Kyk die hanne die, die twee hanne van my. Die hanne raak oud, maar dis nog nie koud. Met die hanne van ‘n ou man, ja nee. Kyk die hanne die,” en dan word daar drie belangrike kenmerke van die hande genoem: “ hulle het hard gewerk, doodmaak hanne die, kan bid innie kerk.”
Ek dink dit is ‘n baie raak beskrywing van hoe dit met die mens se hande gesteld is. Want hande is die essensie van ons bestaan. Dink ‘n bietjie daaroor. Hande sê iets van ons houding in die lewe en dit verrig die take wat ons wil doen. Hande sê dus baie meer as wat woorde kan sê, omdat dit wat ons met ons hande doen, uit ons harte en ons gedagtes uit kom. Met ons hande verdien ons geld. Met ons hande kan ons mense seën en heel maak. Met ons hande kan ons slegte dinge doen en bloed vergiet. Kyk die hanne die, hulle het hard gewerk. Doodmaakhanne die, kan bid innie kerk.
Hande weerspieël die persoonlikheid van die persoon aan wie se arms dit geheg is. Die twee hanne van my…
Dis dalk waarom die Bybel ook vol verwysings is na die hande van mense. In die Bybel is hande ook nie maar net ‘n gedeelte van die liggaam wat aan die punte van mense se arms vasgeplak is nie. Nee, hande speel deurgaans ‘n baie belangrike rol in die Bybel. Elke verwysing na hande is ‘n prentjie wat die wense en die wil van iemand uitbeeld.
Dit word sommer heel in die begin duidelik. Nadat Eva van die verbode vrug eet en dit vir haar man aangee, sê God in Genesis 3:22: “Die mens het nou soos een van ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe eet en bly lewe nie.” Daarom het die Here die mens weggestuur uit Eden uit om die aarde te gaan bewerk. Van toe af kan ‘n mens die handafdrukke van die mens in hierdie wêreld duidelik volg. Met hulle hande het mense gewerk, gemoor, geseën en gebid.
Daar is ongeveer 1800 verwysings na die woord hand in die Bybel. Een derde hiervan is letterlike verwysings. Die hand stel mens in staat om te werk (Rigters 5:26) Of om wapens mee vas te hou (Numeri 35:1
En om iets in besit te neem (Eseg. 39:9).Daar word ook verwys na die werk van mense se hande(Deut 28:12).
Hande is ook gebruik om simboliek uit te druk. Ooreenkomste is geseël deur mekaar se hande te skud(Jes 2:6). In Ps 47:1 sien ons dat iets gevier was deur hande te klap. Onskuld is benadruk deur mens se hande te was(Matt 27:24). In 1 Tim 2:8 lees ons dat hande in aanbidding opgehef is.
Twee derdes van die verwysings na hande in die Bybel is figuurlik of metafories.Die betekenis hiervan kan in vyf primêre groepe verdeel word:
- Mag en krag
- Beheer en besit
- Belangrikheid
- Heiligmaking en seëning
- Rigtingaanwysing
In die Bybel vertel hande dus iets van wat in iemand se hart aangaan. Daarom gee ‘n mens se hart ‘n paar draaie wanneer jy sien wat in God se hart aangaan. Sy handewerk laat ’n mens jou hande saam slaan.
Dis waarom die Psalmdigter in Psalm 31:15 kan verklaar “My tye is in u hand.” In Jesaja 59:1 sê die skrywer: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie.” En die mooiste van alle tekste: “Ek het jou naam in my handpalm gegraveer.” (Jes 49:16)
Dieselfde hande wat die woestynverlatenheid, die chaosmagte en die donkerte omskep het in ‘n skepping wat ons verstand laat duisel, dieselfde hande wat ons planeet in ons melkwegstelsel geplaas het as ‘n spikkeltjie tussen miljoene ander sterre – het jou naam in sy handpalm gegraveer!
Karl Barth skryf in ‘n preek oor God se hande so:Ja vra julle vir my, het God dan hande? Ja, God het hande en wel ook gans andere, veel beter, veel behendiger, veel sterker hande as hierdie kloue van ons. Maar wat beteken God se hande? God se hande is sy dade, sy werke, sy woorde, wat ons almal, of ons dit nou wil weet of wil hê of nie, van alle kante omsluit, dra en vashou. Maar ook dit kan nog net simbolies verstaan word. Daar kom ‘n punt waar die simboliese ophou en die kwessie van God se hande woordeliks erns word – daar waar alle dade, werke en woorde van God hulle begin, voortgang en doel het. God se hande is die hande van Jesus Christus. Dit is die hande wat Hy wyd uitgehou het toe Hy geroep het: Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is en ek sal julle rus gee.Dis die hande waarmee hy die kindertjies geseën het. Dis die hande waarmee Hy die brood gebreek het. Dis die hande wat tot die versoening van ons almal aan die kruis genael is. Hy het gesê: Niemand sal julle ooit uit my hande ruk nie. Hoor julle dit: Niemand, geen mens en geen engel en geen duiwel, ook nie my sonde en my dood nie! Niemand kan en sal my uit sy hande ruk nie.. In hierdie Godshande is ek geborge, is ek opgetel, is ek gered.
Dis hierdie hande wat Jesus uitsteek na die melaatse man wanneer Hy sê (Mark 1:40-45): “Ek wil jou gesond maak. Word gesond.” Die hande van Jesus wys vir ons wat in God se hart aangaan.
Om die waarheid te sê, die hele Markusevangelie is daarop uit. Want in Markus gaan dit om die “identity” (karakter) en “destiny” (kruisiging) van Jesus. Verskeie name, titels en Jesus se “doen-en-late”, openbaar algaande wie Hy is – as die Seun van God (1:1). – die Lydende en die Gekruisigde. As sodanig, daag Hy sy ware dissipels uit om ” hul kruis op te neem” en Hom te volg. Markus wys dit deur vir ons ’n paar prentjies van Jesus te teken.
- Jesus se konflik met die geestelike owerhede van sy tyd – wat geen gesag het nie,
- Jesus in kontras met die dissipels wat geteken word as lojaal – maar eintlik is hulle “sonder begrip en insig”
- Die skare wat belangstel en wat in ‘n goeie lig gestel word – sonder dat hulle geloof het, en
- Sommige individuele persone wat Jesus teenkom en wat – ten spyte van een of ander groot hindernis – wel duidelik aantoon wat “ware geloof” is en wat dit beteken “om te dien”.
Maar om dit regtig te verstaan, moet ons onsself weer inleef in die plek van ‘n melaatse in die destydse samelewing. Melaatsheid was ‘n gevreesde siekte in wêrelddele met ‘n warm klimaat. Hierdie siekte was ongeneeslik. Trouens, daar is gesê dat iemand se kans om uit die dood opgewek te word, beter was as om van melaatsheid genees te word. Slegs ‘n wonderwerk kon hierdie siekte genees.In die wêreld van Jesus was melaatsheid beskou as ‘n direkte straf van God, veral vir die sonde van die tong, selfverheffing en hoogmoed. Daarom was melaatses gedwing om buite die dorp te bly. Hulle kon nie kerk toe gaan nie, nie werk nie en nie liefde of aanraking ervaar nie. As iemand aan hulle sou raak, was die persoon ook onrein.
In hierdie konteks is Jesus op ‘n skokkende manier besig om “ongoddelik” te handel.Hy kry die melaatse jammer. Hy reik uit na hierdie randfiguur van die samelewing en vat aan hom. Dit maak Jesus natuurlik wettiglik onrein en dan sê Hy nog boonop “Ek wil dit doen.” Wat ‘n skokkende storie en wat ‘n manier om vir ons te wys wat in God se hart aangaan. Die God wat op ‘n besondere manier Hom by iemand in nood skaar. Dit is mede-lye, deernis, empatie, passion, saamvoel en “jou probleem myne maak. Jesus se hande wys dat God barmhartig is…diep in sy wese…Hy kan nie anders nie.
Wanneer God aan onreinheid raak, word hy nie onrein nie, maar word die onreine rein. Maar meer as dit. Wanneer Jesus iemand rein maak, dan genees hy die liggaam en die gees.
Cathy Marancy: Liefde word nie gemeet aan die aantal kere wat julle mekaar aanraak nie, maar aan die aantal kere wat julle mekaar bereik. In die lewe moet jy dus nie net kan vat nie, jy moet bereik. Jy moet met jou siel vat. Jy moet met jou oë vat. Jy moet met jou hart vat. In jou hande moet jou hele lyf bymekaar kom wanneer jy aan die ander persoon raak. Dis hoe mense gesond word.
Wat vra dit van ons? Die tyd van die jaar, na Kersfees staan op die kerkalmanak bekend as Epifanie. Dit is die tyd van die kerkjaar waarin Jesus aan die wêreld voorgestel word.Ons-as Kerk- die draers van die evangelie van Jesus, word in hierdie tyd uitgedaag om Jesus aan die wêreld bekend te stel. Ons word uitgedaag om ons hande uit te steek na die hele wêreld, nie net na party nie.
Die probleem is egter die twee hanne van ons… Baie van ons kyk soos die ou man in Theuns Jordaan se liedjie, na ons hande en besef dat dit maar verwronge hande is. Doodmaakhanne. Vir Jesus was dit maklik. Sy hande was vlekkeloos. Sy hande het nie die littekens van ontrouheid, oneerlikheid, sonde gehad nie. Sy hande was totaal oorgegee aan God.Ons hande is lamgelê deur alles wat verkeerd is in ons lewens. So redeneer ons.
Dan is dit nodig om weer te onthou dat toe Jesus sy hande uitgesteek het na die melaatse, toe raak hy aan jou. Toe die spykers deur sy hande gedring het aan die kruis, toe word sy hande net so vermink soos joune. Toe hy sy lewe in God se hande oorgegee het net voordat hy gesterf het, het hy jou lewe in God se hande oorgegee. Daarom is jou verwronge hande in staat om ander te genees. Daarom mag jy nie meer wegskram daarvan om aan ander te vat nie. Daarom moet jou hande bidhande wees.Hande wat lewend maak. Selfs al dink jy iemand verdien die dood.
Ons hande maak ons harte sigbaar. Ons harte word sigbaar wanneer ons ons hande saamvou om vir ander te bid. Dit word sigbaar wanneer ons mense besoek selfs al raak ons nie fisies aan hulle nie. Ons harte word ook sigbaar wanneer ons hande die telefoon optel om ander te bemoedig. Selfs ‘n doodgewone briefie deur ons hande geskryf sê wat in ons harte aangaan. Ons hande kan ‘n groot verskil in mense se lewens maak omdat die gewonde hande van Jesus ons vrygemaak het om God se hande te word.
In ‘n klein kerkie in Noorweë staan ‘n baie besonderse Christusbeeld. ‘n Beeld sonder hande. Wanneer besoekers nader gaan om die interessantheid te ondersoek, vind hulle die volgende inskripsie op ‘n klein koperplaat by die voete: “Hierdie beeld vertel van die werk van Christus op aarde. Kyk goed: Hy het nie hande nie. Jy is sy hande.
The skeptic stood at the foot of the cross and asked, “What happens now to the work you’ve done?” And Jesus whispered, “I’ve my disciples to carry on!” “Well, what happens if they fail you, Son of Man?” the skeptic sneered. “I have no other plan,” Jesus sighed, And then he died.
Ons is God se enigste plan om die melaatsheid van hierdie wêreld te genees. Ons is sy enigste plan om die siektes wat mense se harte en gedagtes en siele breek, gesond te maak. Daarom moet ons hande ander ophelp en uitreik na hulle toe. Nie doodslaan nie.Kyk die hanne die? Is dit doodmaakhanne of bid innie kerkhanne? Of is dit gesondmaakhanne. Die twee hanne van my…