right said reverend

die een wat deur die ver land stryk

Uitsig op God

TOESKOUER

Die oog eerbiedig swart-en-wit,

die kaperhart vernietig dit.

 

As kind het ek te kort gekyk,

Toe wou ek plotseling besit,

 

My hele wese omgevou

Om te ontvang en vas te hou.

 

Maar nou dat alles my ontwyk

Mag ek van meet af kyk en kyk. (Elisabeth Eybers)

 

Die mens hou van kyk.

Dis asof sien mens help om iets of iemand te besit.

Om plotseling te besit.

Om met jou hele wese te ontvang en vas te hou.

Selfs al is dit dan net vir ’n oomblik.

 

Helen Keller -”Of all the senses, sight must be the most delightful.”

 

Dis dan seker waarom so baie van ons gefassineer word deur uitsig.

Ek ken nie een mens wat nie van ’n uitsig hou nie.

Daarom bepaal uitsig die pryse van ons huise.

Hoe groter en mooier die uitsig, hoe meer betaal ons vir die eiendom.

 

Skoonpa vertel graag die storie van ’n woonstel wat hy in die Kaap wou koop.

Dit word geadverteer as ’n woonstel met ’n uitsig op die see.

En omdat die prys billik lyk besluit skoonpa om te gaan kyk.

Met die aankoms besef hy onmiddellik waarom die plek so billike prys het.

Die woonbuurt is vervalle.

Maar meer nog, die see is nêrens te sien nie.

En boonop is daar geen groot vensters in die woonstel nie.1234

Daar is net twee klein vensters hoog teen die muur.

Mens sal op ’n stoel moet staan om daardeur te kyk.

“Waar’s die uitsig wat julle adverteer?” vra hy toe versigtig.

“Kom ek wys gou vir meneer,” bied die oorywerige eiendomsagent aan.

En jou werklikwaar, daar trek hy ’n stoel tot voor die venstertjies en wys dat my pa op die stoel moet staan, dan kan hy ’n stukkie van die see sien so kilometer daarvandaan.

 

Nou ja, skoonpa het toe nie die plek gekoop nie.

Want hy kon dan niks sien nie.

En as mens nie kan sien nie, kan jy nie besit nie.

 

 

 

Die mens se beheptheid met uitsig het ook in ons geloofsuitkyk kom plek kry.

Ons wil God sien.

Want ons geloof gaan oor God.

Maar God is nie sienbaar nie.

En alhoewel bitter min van ons dit wil erken, weet ons dit ten diepste.

 

Daarom reageer baie mense op een van twee maniere op die onsienbare God.

Aan die eenkant kry ons die mense wie se oë swart en wit eerbiedig.

Net dit wat sienbaar is, net dit wat konkreet is kan bestaan.

As daar niks te sien is nie, dan is daar niks.

 

Baie mense maak dan soos skoonpa en loop weg.

Omdat hulle te kort gekyk het.

Dan draai hulle hulle rug op die “niks”.

En hulle probeer die wêreld oortuig dat daar niks is nie.

 

Die wêreld is vol van sulke mense.

Richard Dawkins – Most people think that you need a God to explain the existence of the world, and especially the existence of life. They are wrong…

 

Aan die ander kant kry mens die mense wat maak of hulle iets sien.

Die wat saam op ’n stoel klim en maak of hulle iets sien wat nie te sien is nie.

En hulle oortuig hulleself dat daar tog iets is om te sien.

Dit opsigself is nie te groot probleem nie.

Die probleem kom as hulle ander probeer oortuig dat daar in die niks iets te sien is.

En snaaks genoeg is hulle nogal goed daarmee.

Hulle kry dit baie goed reg om ’n klomp mense op sleeptou te neem.

 

So paar jaar gelede het daar ’n boekie met die naam Heaven is so real verskyn.

Dit is geskryf deur Choo Thomas wat sê dat sy die Here Jesus in 1994 gesien het.

Jesus het haar toe op ’n reis na die hemel toe geneem.

Sy het haar wedervaringe op skrif gestel en dermiljoene mense lees haar boodskap.

Ek is maar versigtig vir sulke boodskappe want ons teks het ’n ander boodskap.

 

Nederlandse spreuk: “Van het concert des levens krijgt niemand ‘n program”. 

Dit wil sê dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie. 

Niemand weet wat op die lewensreis vir hulle voorlê nie. 

Niemand van ons het ‘n onbelemmerde uitsig nie.

Daarom wil mense graag hê dat daar vir hulle ‘n anker moet wees in die lewe? 

 

In sulke tye wil gelowiges graag ontdek dat God self ons anker is. 

Wil ons aan God kan vashou – of eerder: weet dat Hy ons vashou. 

Dat God daar is vir ons as ons Hom nodig het. 

Dat hy ons Reisgenoot is op wie ons kan staatmaak.

Wil hulle nie onseker wees oor God nie.

Maar soms kan mens net nie help nie om te vra:

Wie is God nou eintlik? 

Ons weet so min van Hom. 

Ons kan Hom nie sien nie. 

God is nie ‘n maatskappy op die beurs waarin ons kan belê nie. 

Al wat ons het is woorde wat sê dat God daar sal wees vir ons. 

Benodig ons lewens nie ‘n stewiger fondament nie?

 

Dit gee vir mens nogal begrip vir die mense wat die goue kalf gemaak het (Eks 32). 

Waarskynlik het hulle ook hierdie behoefte gehad na meer sigbare en tasbare God.  

Skrifverklaarders wys dan ook daarop dat die volk nie ‘n ander god wou uitbeeld nie. 

Nee, hulle wou aan die God wat hulle uit Egipteland uitgelei het gestalte gee. 

God is so vaag.  Hulle soek na groter klarigheid.

 

In Eks. 33 sien ons dat ook Moses die leier ‘n behoefte het aan ‘n meer sienbare God. 

Moses dring aan by die Here dat hyself saam met die Israeliete sal trek.

Moses is nie tevrede met die Here se belofte dat Hy ‘n engel saam met hulle sal stuur nie.

Nee, die Here self moet saamgaan. 

Daarom pleit Moses vir die Here se teenwoordigheid by hulle. 

In ons teks sien ons dat die Here hieraan toegee. 

Ten spyte van die Israeliete se ongehoorsaamheid.

Hy verseker Moses weer eens dat hy by hulle teenwoordig sal wees. 

Tog lyk dit of hierdie versekering nie vir Moses genoeg is nie. 

Daarom vra Moses in vers 18: Laat ek tog net u magtige verskyning sien. 

 

Letterlik staan daar dat Moses vra dat die Here sy gesig aan hom moet wys. 

Moses soek dus daardie ietsie meer as net die versekering dat die Here by hulle sal wees.  Hy wil hê dat die misterie onthul word.

Hy wil nie hoor nie, hy wil sien.

Hy wil vir eens en wil altyd weet wie die Een is wat met hulle saamgaan.

 

God gee egter nie aan hierdie versoek toe nie.

So asof God wil sê: Ek is nie kan verklaarbaar nie.

Mense kan my nie in hulle gedagtes en skemas vasvat nie. 

Hy bly die groot Misterie.

 

Wat beteken dit vir ons lewens? –

Uiteraard beteken dit dat ons nie te maklik en gerieflik oor God moet praat nie. 

Dit beteken nie dat ons niks mag sê nie.

Karl Barth: “Ons kan nie oor God praat nie – dit is ons verleentheid; ons moet oor God praat – dit is ons opdrag.”

Maar ons gaan moet leer dat ons ook voor Hom en oor Hom stil kan wees. 

Geloof gaan dus nie net oor antwoorde nie, maar (veral) oor vrae en dialoog.

God maak egter nie niks van Homself bekend nie. 

Ons sien dat die Here vir Moses in ‘n rotsskeur plaas en sy oë bedek. 

Hy beweeg dan in sy heerlikheid by Moses verby. 

Wanneer die Here sy hande wegneem, sien Moses die Here van agter af. 

Wat wil hierdie vreemde woorde vir ons sê? 

 

Miskien kan ‘n mens dit so stel: God wys nie sy gesig (sy heerlikheid of essensie) nie, maar hy wys sy karakter … sy goedheid. 

Die misterie wie ons God noem ken ons ten dele, maar Hy ken ons ten volle. 

Aan ons onthul dié Misterie sy liefdeshart. 

Sy omgee en sy vergifnis.

Omdat God in sy liefde en genade van tyd tot tyd vir ons sy rug laat sien. 

Hy wys ons sy toekoms. 

Hy herinner ons aan sy magtige dade in die verlede en gee ons so ‘n kykie op sy magtige dade in die toekoms. 

Hy sê: Julle wil my ken, maar ek ken julle reeds.

 

Daarom het God hom baie jare later op die mooiste manier denkbaar aan die wêreld kom wys.

In die lyf van ‘n mens.

Jesus die mens, wys die goddelike Misterie se liefdeshart die duidelikste.

 

As jy God dus wil sien, hou op kyk vir ‘n mooi uitsig.

Kyk net langs jou.

Want elke mens is as’t ware ‘n openbaring van God.

Ons word nie verniet die beeld van God genoem nie.

 

In die Joodse tradisie is daar ’n spreekwoord wat sê: Voor elke mens loop daar ’n engel wat uitroep: kyk, kyk, hier kom die beeld van God.

Dit is ongelooflik.

Dit maak nie saak wie jy is nie, dit maak nie saak waaroor jy vanoggend skuldig voel nie, dit maak nie saak wat in jou hart leef nie. Dit maak nie saak hoe anders jy as die een langs jou is nie: Voor jou en elkeen rondom jou loop ’n engel wat uitroep: kyk, kyk, hier kom die beeld van God.

Dis hoekom Moses so by God gepleit het vir mense wat eintlik op die oog af nie God se liefde en genade verdien nie.

Namens God se onvolmaakte beelde op aarde, pleit hy om God in sy volle heerlikeid te sien.

 

Moeder Teresa –

 Toe ‘n Amerikaanse besoeker aan Calcutta eendag vir Moeder Theresa gevra het wat sy en haar helpers nou eintlik doen, het sy geantwoord: First we meditate on Jesus, and then we go out and look for Him in disguise.

  

Daar is ‘n ou bekende storie van ‘n skoenmaker wat ‘n intieme verhouding met God begeer het, soos die meeste van ons.

Dag na dag het hy die Here gevra om vir hom die skoenmaker, te laat sien hoe lyk God.

“Ek wil met U praat en aan U vat,” het die skoenmaker gesê.

Uiteindelik het die Here aan sy wens toegegee en in ‘n droom een aand vir die skoenmaker laat weet dat Hy, die Here, die volgende dag so deur die loop van die dag by hom sal kom kuier.

Die skoenmaker kon sy opgewondenheid nie beteuel nie.

Met ‘n bonsende hart en ‘n ongeduldigheid het hy die volgende dag aan die werk gespring en kort kort by die deur gaan uitloer of die Here nie dalk op pad is nie.

Die eerste keer wat die skoenmaker by die deur uitgeloer het, het daar ‘n boemelaar gestaan wat ‘n glas water gevra het.

Efffens teleurgesteld het die skoenmaker omgedraai om vir die boemelaar ‘n glas water te kry en hom toe gevra om te gaan, hy verwag ‘n belangrike gas vandag.

Die tweede keer staan daar ‘n straatkind wat ‘n brood vra.

Ook vir hom het die skoenmaker ongeduldig gehelp en hom toe vinnig daar weggekry.

Die derde keer het daar ‘n straatvrou voor sy deur gestaan.

Sy wou graag sy badkamer gebruik om haar hande en bene te was omdat sy gestruikel en geval het.

“Wat sal die Here dink as hy so ‘n vrou in my huis sien,” het die skoenmaker gedink.

Maar hy het tog besluit om haar te help, sy moes net gou maak, hy verwag ‘n baie belangrike kuiergas.

So het die dag verbygegaan en al wat uitgekom het, was die Here.

Die hele straatbevolking het sy drumpel deurgetrap, maar van die Here was daar geen teken nie.

Daardie aand het die skoenmaker die Here verskriklik verwyt.

“U het gesê dat U vandag by my sou uitkom, maar U het nie.  Ek dag dan U is ‘n betoubare God.”

 

Daarom is ek maar versigtig vir die oog wat swart en wit eerbiedig.

Ek vertrou nie mense wat met stelligheid sê dat hulle God gesien of nie gesien het nie.

Ek wil self van meet af kyk en kyk.

Daarom is ek gemakliker met die idee dat God nie sienbaar is nie.

 Blue note – Ben du Toit

Miskien het NP van Wyk Louw dit beter as baie ander verstaan.

In waansin het ek gevra

Daar is een heerlikheid, U sien;

Daar is een rus: om U te soek;

Om nie te weet – dit is U seën;

En om te vind – dit is U vloek.

May 13, 2009 Posted by rightsaidreverend | God, Preke | | 3 Comments

Om te misluk

Sowat twee jaar gelede wou ek ontslae raak van die derde party in my huwelik.
Dis ‘n goue Toyota Legend 35 dubbelkajuitbakkie waarop ek halsoorkop verlief geraak het die oomblik toe die sitplek my omhels het.
Kyk, sy’s nie sexy nie, maar genugtig sy’t my hart gesteel.
Ek het my oë toegeknyp en elke truuk in die boek uitgehaal om dié voertuig te besit.
Ek moes selfs ‘n paar dae buite slaap toe my vrou my met ‘n koekroller uit die huis gejaag het met die nuwe aanwins se tuiskoms. (Net ‘n grappie)

Soos enige verhouding in die lewe het hierdie een ook sy tekortkominge.
In hierdie geval het my beursie daaronder gely.
Dis nou wat die kinders high maintenance noem.
Haar ontwerperrubberskoentjies kos sowat R1500 een.
‘n Facial/gesigbehandeling by die Toyota-agentskap kos maklik nog meer.
En genugtig, sy drink soos ‘n vis. Elke tweede dag wil sy by ‘n vulstasie stop.

Daarom het ek besluit om dié verhouding te beeïndig.
Want jy weet, dis ‘n wêreldwye ekonomiese krisis en ‘n ou moet planne maak.
Christo verwys my toe na ‘n motorhandelaar wat hy goed ken.
Daar gekom beduie ek toe vir die ou dat ek baie hartseer is, maar dis nou tyd om ‘n goedkoper voertuig te bekom. Kan hy my help?
Sekerlik, en hy spring op, gryp een van daai knypborde waaraan ‘n pen met ‘n toutjie vasgemaak is en stap buite toe.

Weet jy watter geluid in die lewe gee jou die grootste beklemming om jou hart?
Dis wanneer ‘n werktuigkundige onder jou motor se enjinkap inbuk, hier vat en daar wikkel, en dan so lang fluit gee…..
Dan moet jy weet jy’s in vir ‘n paar rand meer as wat jy voor begroot het.

Weet jy watter geluid in die lewe gee jou die 2de grootste beklemming om jou hart?
Die kuggie van iemand wat gebruikte motors verkoop.
Hulle benader ‘n voertuig mos so van ‘n afstand af. (Staan weg met knypbord in 1 hand.)
En met die naderstaan steek hy al sy hand uit. Vryf hier en vryf daar en sover as wat hy vat, gee hy ‘n kuggie (mgg mggg mgggg).
Met elke kuggie raak jy intens bewus van elke foutjie wat jou voertuig het.
Van elke stampie en stootjie wat jy nooit reggemaak het omdat daar nie geld was nie.
Dan weet jy, hierdie ou maak gereed om vir jou so min as moontlik aan te bied.

En dit was inderdaad so.
Toe die ou klaar gekug het toe is my bakkie sommer duisende rande minder werd as wat ek dit voor gekoop het.
En daar is niks ekstra oor om ‘n ander voertuig aan te skaf nie.
Want motorhandelaars sien alles raak en elke foutjie verminder die waarde van jou voertuig.
Ek het toe maar my bakkie gehou, want foutjies en al is sy vir my baie meer werd as wat ‘n puntenerige motorhandelaar my wil aanbied.

Soms lyk dit vir my ons doen dit in die kerk ook so.
Ons is gedurig besig om onsself en ander te waardeer soos ‘n gierige motorhandelaar.
Ons is voortdurend besig om mekaar se sondes te bly oprakel en iemand se waarde as gelowige te onderwaardeer.

T.T. Cloete verwoord hierdie neiging by ons in sy gedig “In die klein gemeentes.”

In die klein gemeentes hou ons liefde boek
Van die foute van die ledemate,
Van ons broers en susters, ons ondersoek
ry op, ry af, na links, na regs mekaar se kwaad…
ons hou rekening van en ons reken af met
mekaar in die klein gemeentes voor die diens,
met die ledemate se foute voor Gods wet,
gesien en ongesiens…

soos primate met die skerp nael mekaar
uitkam tot diep in die huid,
tot in die wortel van die haar…
van gehoresegge en ongehoord
en vermoed, voor en tydens en na die diens;
gesien en ongesiens.

Maar God is anders as ons. Hy
Is vol genoegdoening as die sondiges iets weer regkry…
God geniet dit as die alkoholis
Gerehabiliteer is.
God vergeet. God
Vergeet tot uitgediende hoerery, diefstal, tot
Uitgediende moord, tot die onthouers
So goed as saam met die verbrouers.

Maar ons, ons geheue is sterk
Wat oortredings betref, ons is sensitief vir boos
En heilig, ons hou die sonde lewend binne-in die kerk,
Tot in die vierde geslag.
En God? Gods liefde is geheueloos.

Ek wonder baie maal hoe dit gekom het dat onsself en ander so kasty met liefdeloosheid.
1 Petrus 4:8. In die Lewende Bybel word dit so gestel:
As ‘n mens iemand liefhet maak jy nie ‘n bohaai oor al sy foute nie.
Die NAV stel dit so:
Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê want die liefde bedek baie sondes.

Tog gebruik baie gelowiges die liefde as ‘n tweesnydende swaard om sonde oop te vlek.
Hoe gebeur dit?
Daar is waarskynlik tientalle antwoorde op hierdie vraag.
Maar een van die grootste oorsake dink ek, het te make met ons oordrewe selfkennis en selfoorskatting.
Soos Petrus het ons ‘n ingesteldheid wat nie ruimte laat vir mislukking nie.
Want mislukking spel waardevermindering.

Daarom ontken ons ons mislukkings.. Ons doen dit deur te “groei”.
Om ons soos Petrus, beter te laat lyk as wat ons is.
Ons sê vir mekaar dinge soos: As jy doelgerig lewe, lewe jy nie gemiddeld nie. As jy beplan, beplan jy sukses.
Jy kan in haas geen kerk vandag kom nie, of jy sien die woord groei.
Ons het tientalle terme hiervoor gemunt: Geloofsgroei, geestelike groei, gemeentebou.

Strategieë en visies en missies en kommissies is aan die orde van die dag.
Gevul met lojaliteitsslagspreuke en beloftes dat ons die Here nooit sal teleurstel nie.
Orkeste en powerpointaanbiedings en peperduur klankstelsels word ingespan om mense na gemeentes toe te lok.
Ons bied verrykingskursusse, ontdek-jou-gawesseminare, 7 stappe om God te ken aan.
Alles pogings om te groei.

Maar wat is die probleem?, hoor ek jou vra.
Ons moet mos groei. Ons kan mos nie stagneer nie.
Ek sal jou sê wat: Die probleem is dat die kerk besig is om dood te groei.
Want die kerk het ‘n besigheid geword waar selfvoldane Christene soos die toring van Babel al hoe nader aan God groei.
‘n Klub waar ons elkeen aan ons eie sekerhede, oortuiginge en aan onsself vasklou.
Kerk gaan vir die meeste van ons oor ons eie geloofsbehoeftes en vervulling.
Kyk hoe groei ons Here, ons sal u nooit in die steek laat nie.

GB Thompson het empiriese navorsing onder kerkgangers gedoen om vas te stel wat hulle as die belangrikste funksies van die erediens beskou.
• dit moet ‘n oase van vrede en rus verteenwoordig te midde van die gejaagdheid van die lewe;
• dit moet inspirasie bied en moed gee vir die toekoms;
• die preek moet praktiese raad verskaf wat toegepas kan word gedurende die res van die week.
Alhoewel al hierdie sake belangrik is, is dit tog opvallend dat hulle almal op ‘n individualistiese vlak bly beweeg en gerig is op private ervaring.
Daarom sê ek ons groei na binne en nie na buite nie. Ons groei ons dood.

Kom ons toets gou my stelling: (Hou my hand dop).
Hoeveel mense is in die kerk wat die afgelope jaar vir die eerste keer in hulle lewe kerk toe gekom het?
Hoeveel mense het die afgelope jaar van ander gemeentes na Valleisig oorgeskuif?
Ons groei nie, ons skuif meubels rond.
Ons maak ons besigheid vol met gelowiges wat die regte waarde het.
As ons regtig wil groei gaan ons moet ophou om die kerk as ‘n besigheid vir selfsugtige yuppie-Christene te bedryf.
Ons gaan eerder moet leer dat die kerk ‘n hospitaal is waar mense ten spyte van hulle mislukkings waarde het.
As ons dit nie kan doen nie, gaan ons onsself uit die genade groei.

Willie Jonker: Godsdienstigheid wat nie uit genade leef nie, is ‘n valse godsdiens. Dit is ‘n soort godsdiens wat mense in eiegeregtigheid op ander laat neersien.

Gelukkig kyk die Here nie neer op ons mislukkings nie.
God is nie op soek na briljante gelowiges nie.
Hy is nie afhanklik van welsprekende mense nie.
Hy is nie beperk tot talentvolle mense om sy evangelie na die wêreld uit te dra nie.
Hy het nie hipergeorganiseerde makrokerke nodig om sy koninkryk te laat kom nie.
God is op soek na gebroke mense wat hulself in die lig van X se kruis ondersoek het. Wanneer Hy iets wil doen, gebruik hy mense wat die einde van hul kragte bereik het.

Om die waarheid te sê: As ‘n mens kyk na die talle kere dat Jesus se dissipels in die Evangelies misluk het, lyk dit byna of mislukking deel van sy opleidingsleerplan vir dissipels was. Dit was bv. eers nadat Petrus ellendig misluk het dat hy die grootste verantwoordelikheid gegee is.

Anoniem: Ook in die donker hart van die bose sal jy ‘n ligkol van goedheid vind, en in die voortreflikste siel is daar skadu’s van boosheid.

Les Miserables: The flesh is at once man’s burden and his temptation. He bears and yields to it. He must keep watch over it and restrain it, and obey it only in the last resort. Such obedience may be a fault, but it is a venial fault. It is a fall, but al fall on to the knees which may end in prayer. To be a saint is to be an exception; to be a true man is the rule. Err, fail, sin if you must, but be upright. To sin as little as possible is the law for men; to sin not at all is a dream for angels.

Jesus weet dit. Daarom pleit hy vir ons. Dis ‘n eg menslike woord. Maar hy pleit. Hy bid.
Ten spyte van ons mislukkings.
In Lukas se weergawe van hierdie gebeure sê Jesus vir Petrus: Simon, Simon! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.

Dit beteken tog dat Hy hom geheel en al met ons as mense vereenselwig, dat Hy ons saak opneem en dit sy eie maak.
Dat Hy as God, by God, vir ons met dringendheid en oortuiging intree.
Dat ons verlossing, ons heiligmaking, ons verheerliking, ja alles wat ons nodig het vir tyd en ewigheid, vir Hom ‘n saak van die uiterste belang is.
Jesus pleit! Selfs al is ons nie altyd wenners nie.
Want ek dink hy verstaan soos Breyten Breytenbach dit gestel het: ‘n Mens ly jou hele lewe aan jou menswording.

Ek wil afsluit.
Verlede jaar hierdie tyd het ek my bakkie se waarde nog verder verminder.
Ek het in Atterburyweg afgery en daar by die BP-vulstasie ry iemand skielik voor my in.
So naby dat ek moes rem. Hard moes rem.
En toe ek weer sien toe lê my goue liefling op haar dak.
R117 000 se skade. Dit grens aan afskryf.
Die versekering besluit egter dat hulle nie gaan vervang nie, hulle gaan herstel.

Ek het maar lang tand daaraan gekou. Want wie wil nou ‘n voertuig ry wat in ‘n ernstige ongeluk was.
Dit gaan in elk geval niks werd wees nie, want dit sal seker as ‘n opgeboude voertuig geregistreer moet word.
Die dag toe ek uiteindelik my kar kon terugkry vra ek toe vir die paneelklopper:
Sal ek die kar nou moet herkodeer. Jy weet: Kode 3?
Toe kyk die ou my aan asof ek sy handewerk beledig en hy sê:
IS JY MAL! DIS ‘N SPLINTERNUWE BAKKIE.

En jou werklikwaar, daar staan sy. Nie ‘n skrapie nie, nie ‘n stampie nie, nie ‘n skewe paneel nie, nie ‘n stukkie verf wat uit plek is nie. Mooier as ooit.

Soos Petrus kom elkeen van ons ook een of ander tyd in ‘n geestelike ongeluk.
Ernstige ongelukke wat volgens aanvaarde standaarde ons waarde moet verminder.
Ons misluk op soveel maniere in die geloof.

Dalk beleef jy dit vanoggend.
Dalk het die haan vir jou gekraai en huil jy oor jou mislukking.
En dalk is daar baie aanklaers wat voor die Here staan en vra: Here, moet hy/sy nou ‘n ander kode kry?
Dan sal die groot Paneelklopper omdraai en verby al die mislukkings kyk.
Verby mense se beskuldigende vingers. Verby die huweliksontrou.
Die drankmisbruik. die geweld. Verby jou ongeloof en twyfel.
Verby al jou geheime sondes en die sondes waarvan almal weet.
Verby al jou skuldgevoelens oor ʼn onvolmaakte lewe.

Die Seun van Dawid kyk verby alles wat vanoggend in die pad van jou geloof kan staan.
Want hy bepaal jou waarde op ‘n ander manier.
Hy het hom aan ʼn kruis laat vasspyker om vir die wêreld te sê: Van hierdie oomblik af is elkeen van my kinders belangrik.
Van hierdie oomblik af lewer ek hulle nie meer uit aan ‘n puntenerige wêreld wat geen waarde aan hulle heg nie.
Vir my is hulle te waardevol.
Want hulle is my kinders wie se sondes vergewe is.

Daarom sal hy omdraai, verby alles kyk en sê:
IS JY MAL! DIS ‘N SPLINTERNUWE HART.

May 13, 2009 Posted by rightsaidreverend | Jesus, Preke, Vergifnis, Vernuwing | | 3 Comments

Swem Sannie, swem vrou, swem

Vroeër jare is ‘n vrou wat met ‘n bikini swem, daarvan beskuldig dat sy losse sedes bevorder. Bikinidraers moes veg vir ‘n plekkie om te tan.

Uiteindelik het hulle gewen, tot so ‘n mate dat jy in die westerse kultuur skeef aangekyk word as jy met iets anders as ‘n bikini swem. En net hoe skeef, het die “verligte” Nederlanders hierdie week vir die wêreld gewys.

‘n Moslemvrou wat met ‘n boerkini (lyk amper soos ‘n duikpak) geswem het, is gevra om die swembad te verlaat, aangesien die ander swemmers beswaar maak teen haar drag! (http://www.news24.com/Beeld/Wereld/0,,3-71_2277999,00.html)

Dit lyk vir my die mens sal maar altyd geneig bly daartoe om ander te wil dwing om soos jy te dink en voel.

As jy godsdienstig is, wil jy hê ander moet ook godsdienstig wees. As jy ongelowig is, moet ander ook so wees. As jy halfkaal wil loop, moet ander dit ook doen. As jy wil tan, moet ander dit ook doen. Die lys kan eindeloos raak.

Aanvaarding en verdraagsaamheid is vir baie mense lagwekkende begrippe. Maar ek en my gesin, ons sal ons daarvoor bly beywer.

February 27, 2008 Posted by rightsaidreverend | My swerftog | | 25 Comments

123 blok my boek

Ek is deur Karin getag om:

  1. Tel die boek naaste aan jou op.
  2. Blaai na bladsy 123.
  3. Tel die eerste vyf sinne af.
  4. Post die volgende drie sinne.
  5. Tag vyf ander bloggers  

My boek is: 

The 33 Strategies of War – Robert Greene:

Create this reputation and make it credible with a few impressive – impressively violent – acts. Uncertainty is sometimes better than overt threat: if your opponents are never sure what messing with you will cost, they will not want to find out. Play on people’s natural fears and anxieties to make them think twice.

Ek tag vir… (dit lyk of almal al geblerrie tag is) uhm… oukei… oukei, oukei, oukei… tag net iemand magtag!

http://stevehofmeyr.co.za/blog/ (ek toets DaMario se teorie vir ‘n besige blog)

http://dmario.wordpress.com/ (’n bietjie besigheid vir DaMario uit dankbaarheid)

http://attie.wordpress.com/ (nog ‘n bietjie besigheid vir ‘n besige kollega)

http://7skewekleure.wordpress.com/ (’n knik van erkenning vir my gunstelingblog)

http://saligerus.wordpress.com/ (’n moontlike topic vir gesprek volgende week)

February 15, 2008 Posted by rightsaidreverend | My swerftog | | 7 Comments

maar die slopers is betrokke

Hierdie vandag raakgelees geskryf deur Wedergestorwe Christen:

Wat is die mens? Nie baie nie, en tog….

As al die mense vandag besluit die wêreldleiers het geen gesag of mag nie, het hulle?

As mense vandag besluit belangrike mense is nie belangrik nie, het hulle enige status?

As alle mense vandag besluit geld, metale en kunswerke is nikswerd, het dit nog enige waarde?

As mense vandag kollektief van gode vergeet en nie meer aan hulle dink nie, gaan hulle “werklik” voel?

As mense vandag die aarde opblaas of die ruimte in foeter, wat word van iets soos die wederkoms?

As mense vandag ophou voortplant, wat kan evolusie doen?

As mense vandag besluit om hulle deel te doen, mekaar te help en alles te deel, is ‘n ekonomie of politiek of nasionaliteit of kulturele identiteit nodig?

January 31, 2008 Posted by rightsaidreverend | Mens | | 23 Comments

ietsie vir vygie

Ek het hierdie preek gemaak vir die begrafnis van ‘n gestremde kind. Sy ouers het hom vir 16 jaar versorg nadat hy ‘n virus opgedoen het wat hom vir die res van sy lewe op 2-jarige ouderdom laat vashaak het. Vygie, ek kan nie regtig jou en ander ouers se pyn verstaan nie, maar hierdie is my lomp poging gewees om sin te maak daarvan. Vergewe my as dit onvanpas is.

Die ideale lewe is ‘n heel lewe. D.w.s. ‘n normale lewe.  So redeneer ons. Dit is nie nodig om hierdie stelling wetenskaplik te staaf nie. Jy kan maar net na mense se benadering tot die lewe kyk om dit te besef. Elke mens streef na heelheid. Read more »

January 25, 2008 Posted by rightsaidreverend | My swerftog | | 7 Comments

‘n Poging om niks oor Steve te sê nie.

Ek het Vark se versoek met erns bejeën en besluit om iets oor die eetgewoontes van vlieë te skryf. Dis egter ‘n eenvoudige onderwerp. Want vlieë suig, spoeg en suig dan weer. Eenvoudig. Maar my navorsing het my op ‘n paar interessante feite oor vlieë uitgebring. Vir julle vermaak dus, ‘n produksie deur right said reverend oor vlieë omdat ek nie my neus in ander mense se sake steek nie, maak nie saak hoe bekend hulle is nie.

Huisvlieë bestaan al ongeveer 65miljoen jaar. Die vermoede is dat hulle oorsprong êrens in die Midde Ooste is. Daar is egter ook navorsers wat meen dat Afrika (net soos die mens) eintlik die plek van oorsprong is omdat die meeste spesies en subspesies in Afrika te vind is.

Die mens is waarskynlik verantwoordelik vir hulle migrasie. Bote, perdekarre, wat ookal, as die mens se gat gejeuk het, het die vlieg ‘n ride gevat. The moral of the story: Waar mense is, sal daar vlieë ook wees.

‘n Huisvlieg kan slegs vloeibare kos eet. Hulle spoeg saliva op soliede kos om dit ‘n bietjie te verteer en suig dit dan weer in. Hulle vomeer ook gedeeltelik verteerde kos en eet dit dan weer.

Sommige navorsers meen dat een vlieg soveel as 33miljoen interne bakterieë huisves en nog sowat ‘n halfbiljoen wat op sy lyfie rondswerm. Gelukkig is hierdie bakterieë nie baie lief vir selfs die kleinste temperatuurskommelings nie. Dus is ‘n vlieg se reis van die dak na die tafel, hoe kort ookal, maar ‘n moeilike een. As dit nie hiervoor was nie, sou die mens dodelik siek kon word a.g.v. vlieë. Of eerder van dit wat hulle saam met hulle karwei: Tifus, cholera, salmonella, polio en lintwurms tel hieronder.

Ten spyte van ons beste pogings, is dit bykans onmoontlik om vlieë vir ‘n langtermyn hok te slaan. Daar was egter ‘n periode kort na die Tweede Wêreldoorlog toe dit amper gebeur het met die gebruik van DDT en ander dodelike insekdoders. Die grillerige kreatuurtjies het ons egter van ver af sien aankom en ‘n immuniteit teen ons truuks ontwikkel, sodat ons op die oomblik niemand anders as onsself vergiftig nie.

Ten spyte van baie pogings kon niemand dit nog regkry om ‘n vlieg iets te leer nie. Visse leer, kakkerlakke leer, slakke leer en selfs wurms leer, maar nooit ‘n vlieg nie.

‘n Vlieg spring op en agtertoe as dit wegtrek. As jy dus van agter af naderkom, behoort jy ‘n beter kans te hê om die outjie moerland toe te stuur met jou handpalm.

Vlieë speel ook ‘n belangrike rol in mitologie en religie. Een voorbeeld is die Najavo-religie waarin Groot Vlieg ‘n belangrike spirituele wese is.

Emily Dickinson het ‘n gedig geskryf met die titel: I heard a fly buzz when I died.

Wie onthou die fliek The Fly waarin ‘n wetenskaplike per ongeluk dele van sy lyf vervang het met die van ‘n vlieg?

Fly with web server - Garnet HertzIn 2001 het Garnet Hertz ‘n volledige web server in ‘n dooie vlieg oorgeplant. Maar die whackhead het dit met paddas ook gedoen. Of is dit nou web head?

Mohammed die profeet van Islam het na bewering ook die volgende oor ‘n vlieg te sê gehad: “If a house fly falls in the drink of anyone of you, he should dip it (in the drink), for one of its wings has a disease and the other has the cure for the disease.”

January 25, 2008 Posted by rightsaidreverend | Huisvlieg, Steve Hofmeyer | | 10 Comments

ons is nog jonk en die wêreld is oud

‘n Preek oor vernuwing. Die skrifgedeelte is Jesaja 43:14-21

Is dit opwindende tye waarin ons leef of nie? Baie van ons dink nie dat ons in opwindende tye leef nie. Baie van ons voel onseker en verward oor die tye waarin ons leef. Die hoeveelheid nuwe dinge wat ons beleef is oorweldigend en dit pluk die matjie van alles waaraan ons gewoond is, reg onder ons voete uit. Dit verlam baie van ons so erg dat ons ook die nuwe geslag aan bande lê. 

Daarom wil ek vanmore ʼn uitdagende stelling maak: As ons as geloofsgemeenskap nie vanmore met passie en oortuiging kan saamstem dat die tye waarin ons leef, opwindend is nie, dan gaan ons die geleentheid laat verlore gaan om ons Goddelike opdrag in hierdie nuwe wêreld na te kom. Dan gaan die kerk ʼn stem in die woestyn word. Dan gaan ons en veral ons kinders vasgevang wees in ʼn kerk wat die siel doodmaak.‘n Kerk wat die siel verlam. 

In standerd nege/graad elf het ek my eerste ernstige verhouding met ʼn meisie begin. Sy was in matriek en toegerus met al die ervaring om ʼn standerd 9 seun op te lei in die wetenskap van dating. Een so opleidingsgeleentheid was toe ons altwee ʼn naweek in die koshuis moes bly. Ek het die heel week gedroom en planne gemaak oor hierdie onverwagse bonus. Ek besluit toe om haar na Middelburg se enigste fliekteater toe te vat. Daai aand het Tom Cruise se selfversekerdheid in my posgevat en toe ons na die fliek om ʼn donker hoekie ( so beplan ) staan om te groet, toe vra ek: “Mag ek jou soen?” In die donker kon ek voel dat sy na my kyk en glimlag. Maar sy sê nie ʼn woord nie. Ek het so effens ongemaklik begin voel maar in egte Tom Cruise-styl het ek my cool gehou en weer gevra: “So, mag ek jou soen of wat?” En die meisie sê nie ʼn woord nie. Ek begin ongeduldig raak, want dit lyk nie of sy die erns van die situasie besef nie. “Is jy doof?” vra ek toe in ʼn stemtoon wat sê: Jy’t een kans ou girl, soen my of los my. Weet julle wat antwoord sy my? “Is jy lam?” Toe soen ek! Read more »

January 18, 2008 Posted by rightsaidreverend | Vernuwing | | 6 Comments

Skenk ons ‘n helder Bach kersfees

Ek wil graag hierdie artikel met julle deel. Prof. Jurie le Roux, Ou Testamentikus en een van my gunstelingteoloë het dit geskryf.

Kersfees 2007: Bach, ‘bands’ en Kersfees    
Jurie le Roux

Sonder die kerk was daar geen kuns nie. Of in elk geval nie soos ons dit vandag ken nie. Dit was die kerk wat skilders en komponiste in diens geneem, hulle betaal en talle opdragte gegee het. Hulle moes die kerk se boodskap vir gewone mense ‘hoorbaar’ en ‘sigbaar’ maak. Dié kuns het die westerse mens so ingrypend gevorm en geslyp dat die diepte daarvan ‘n mens nou nog oorrompel. En miskien lê dié oorrompelende in die poging om iets oor God in die mooiste kleure en aangrypendste musiek te sê; om iets van die onsigbare, die misterie op ‘n doek vas te lê en tog ook nie alles te sê nie; om iets oor die onuitspreeklike te sing sonder om dit volledig vas te vat. Read more »

January 17, 2008 Posted by rightsaidreverend | Bach, Kersfees | | 3 Comments

Verslaaf aan godsdiens?

Ek het die onderstaande op Wikipedia raakgelees en plaas dit net so sonder enige bespreking. Sal graag wil lees wat dink julle daarvan.

“Many people, both psychology professionals and laypersons, now feel that there should be accommodation made to include psychological dependency on such things as gambling, food, sex, pornography, computers, work, exercise, cutting, shopping, and religion[3] so these behaviours count as diseases as well and don’t cause guilt, shame, fear, hopelessness, failure, rejection,anxiety, or humiliation symptoms associated with, among other medical conditions, depression[4],epilepsy, [5] and hyperreligiosity[6] In depression related to religious addiction “The religious addict seeks to avoid pain and overcome shame by becoming involved in a belief system which offers security through its rigidity and its absolute values.”[7] While religion and spirituality may play a key role in psychotherapeutic support and recovery, it can also be a source of pain, guilt and exclusion, and religious themes may also play a negative role in psychopathology.[8]

January 12, 2008 Posted by rightsaidreverend | afhanklikheid, geloof | | 6 Comments